
Die kusstrook tussen Rooiels en Pearly Beach is alom bekend as een van die wêreld se top plekke om walvisse te kyk – geen wonder dat dit voortaan as die Cape Whale Coast bemark gaan word nie. Die Overstrand munisipale gebied is verder beroemd vir pragtige berg- en seelandskappe, innoverende wynhuise, haaie en 'n uitstekende toerisme infrastruktuur.
Die Overstrand is ook besig om 'n internasionale reputasie as 'n top voëlkykbestemming te ontwikkel. So bv. is BirdLife SA se nasionale algemene jaarvergadering vroeër vanjaar in Hermanus gehou. 'n Groot aantal endemiese spesies kom in hierdie gebied voor en 'n groeiende aantal besoekers is besig om die streek te besoek juis om hierdie spesies wat nêrens elders op aarde te vinde is nie te kom kyk. Hier is veral twee groepe voëls van belang. Die eerste groep kom uitsluitlik in die Kaapse blommeryk voor en hier is spesies soos die Kaapse Berglyster, Kaapse Pietjiekanarie, Witvlerkkanarie, Oranjeborssuikerbekkie, Kaapse Suikervoël, Rooiborsruigtesanger en ander die teiken van internasionale voëlkykers en Suid Afrikaners wat nie bevoorreg is om hier te woon nie. Die tweede groep word geassosieer met die Benquela seestroom langs die Weskus, maar kom ook wel langs die Overbergse suidkus voor. Hier kan spesies soos die Trekduiker, Bankduiker, Kuifkopduiker, Geelbeksterretjie, Brilpikkewyn en Swarttobie genoem word. Voeg hierby die feit dat die grootste groep Bloukraanvoëls op aarde hier voorkom en dit is geen wonder dat die Overstrand as een van die top voëlkykbestemmings in suider Afrika beskou word nie.
Benewens die voëls word verskeie natuurreservate en ander voëlkykplekke in die area ook alhoe meer gesog. Bekende fynbos reservate soos by Rooiels, die Harold Porter botaniese tuin, en die Fernkloof, Walkerbaai en Salmonsdam natuurreservate bied gemaklike en veilige toegang tot baie van die streek se spesiale voëls. Bergreservate soos die Kogelberg en die bekende Overbergse landskappe wat na Caledon se kant toe gevind word beklemtoon die streek se uitstaande biodiversiteit. Drie strandmere by Botrivier, Kleinrivier en Uilenkraalsmond huisves ook groot verskeidenhede van watervoëls, waadvoëls en somer besoekers. Minder bekende plekke soos die strandmeer by Onrusrivier en die soutpan by Vermont is eintlik nog net aan plaaslike inwoners bekend. Die verskeidenheid van spesies word verder verbreed deurdat groot broeikolonies van seevoëls by Dyereiland en Stony Point by Bettiesbaai voorkom. Die Overstrand se voëls sal bemark word as deel van die Overbergse Voëlroete wat tans deur BirdLife SA ontwikkel word. Al die voëlroetes in Suid Afrika word ontwikkel om 'n kritiese bydrae te lewer tot die bewaring van voëls en hul habitatte. 
Die bewaring van voëls en hul habitatte word reg oor die wêreld aansienlik versterk deur die registrasie van gebiede as Belangrike Voëlareas (Important Bird Areas of IBA's) onder die beskerming van BirdLife Internasionaal. IBA's word op grond van vaste internasionale maatstawwe gekies en aansoeke word geweeg in terme van die bewaring van seldsame voëls en hul habitatte op 'n globale skaal. Die internasionale IBA program se doel is om belangrike voëlgebiede te bewaar en te bestuur volgens die behoeftes van die biodiversiteit wat daar voorkom. Die registrasie van enige IBA fokus op inligting soos lyste van voëls wat daar voorkom, habitatte wat voëls huisves wat internasionaal bedryg word of voëls wat net in beperkte verspreidingsgebiede in die wêreld voorkom. Drie IBA's naamlik die Oostelike Valsbaaiberge, Botriviervlei met die Kleinmond strandmeer en die Dyereiland natuurreservaat is reeds in die Overstrand geregistreer. Verskeie individue en organisasies het oor die afgelope paar jaar voorgestel dat daar aansoek gedoen moet word om ook die Kleinrivier strandmeer en die rivier se opvangsgebied as 'n IBA te laat registreer. Hierdie organisasies sluit onder andere BirdLife Overberg, BirdLife Walkerbaai, die Hermanus Voëlklub, CapeNature en die natuurbewaringsafdeling van die Overstrand munisipaliteit in. Lede van BirdLife Overberg het na deeglike navorsing saam met Neil Smith van BLSA besluit om aansoek te doen om die hele gebied van die Overstrand munisipaliteit tesame met die gebiede tot by die N2 en gedeeltes van die pad tussen Caledon en Bredasdorp tot 'n IBA te laat verklaar. Dit impliseer dat die kusstrook tussen Rooiels en Die Dam, die Kogelberg biosfeer tot by Grabouw en die riviertjies wat die Kleinrivier strandmeer voed by hierdie aansoek ingesluit is. Die aansoek is pas deur die Afrika Sekretariaat van BirdLife Internasionaal sowel as BirdLife Internasionaal goedgekeur en die Overstrand word dan as Afrika se jongste IBA erken. Hierdie registrasie sal die streek se reputasie as een waar die bewaring van die omgewing op verantwoordelike wyse aangepak word nog verder verbeter.
Twee spesiale naweke vir voëlkykers word binnekort in die Overberg aangebied se potensiaal nog meer te bemark. Die jaarlikse Stanford Glendower voëlfees is tussen 3 en 5 Oktober en deelnemers kan uitsien na 'n verskeidenheid van gratis lesings oor aasvoëls, seevoëls, tuinvoëls en die paring van voëls en verskeie ander demonstrasies en kompetisies. Dit bied die ideale geleentheid om die spesiale voëls rondom Hermanus, Stanford en die Danger Point skiereiland te kom besigtig. Daar is ook 'n outydse karnival, musiek, stalletjies en NG Kerkbazaar. Die volledige program is beskikbaar by www.stanfordbirding.co.za en navrae kan gerig word aan Elsa Gebhard by elsag@global.co.za of 028-3410499.
Die ereveldwagters van Agulhas Nasionale Park stel ook tussen 17 en 19 Oktober hul gebied vir die eerste keer aan voëlkykers bekend met 'n naweek wat in samewerking met die gemeenskap van Elim en SASOL aangebied word. Min mense is bewus van die uitgebreide biodiversiteit van die Agulhas Nasionale Park en besoekers sal tydens hierdie naweek vir die eerste keer die kans kry om dele van die park te besoek wat voorheen nog nie vir die publiek oop was nie. 'n Verdere bonus is dat die watermassas van Soetendalsvlei ook vir deelnemers toeganklik sal wees. Hierdie bestemming is een van die groot geheime van voëlkyk in die Weskaap en die groot verskeidenheid van watervoëls en waadvoëls wat hier voorkom is 'n moet om te beleef. Ian Sinclair sal tydens die naweek as gasspreker optree. Die volledige program is beskikbaar by Emmerentia de Kock by emmerentiad@sanparks.org en navrae kan gerig word aan Eddie Cassani by eddieandangela@telkomsa.net of 028 - 4233095.
Inligting oor die Weskaapse Voëlroetes kan by www.westerncapebirding.co.za verkry word en brosjures en voëllyste is op navraag beskikbaar. Advies oor verblyf, voëlgidse, die beste plekke en tye van die jaar om te besoek is ook beskikbaar. Alle navrae aan birding@overberg of 0825503347.
Voëlkykers se dagboek
26 Augustus 2008
Klubs word alfabeties aangegee. Telefoonnommers is in Kaapstad, tensy anders vermeld.
BirdLife Overberg: Praatjie: 1 September. (19h00) “Die valkies van suider Afrika” deur Anthony van Zyl.
Fernkloof natuurreservaat.
Uitstappie: 20 September. (07h00). Besoek die Paarl voëlreservaat. Bel Melanie Honicke by 028 – 3130741 Ereveldwagters se SASOL Agulhas Nasionale Park voëlkyknaweek met Ian Sinclair as gasspreker: 17 tot 18 Oktober. (Sien beskrywing elders op die bladsy). Bel Eddie Cassani by 028-4233095
BirdLife Plet: Byeenkoms: 22 September. (18h00). Videovertoning “The Insatiable Appetite” van Richard Attenborough. Plett Buiteklub. Bel Jeanette Powter by 044-5333168 teen Donderdag 18 September om te bespreek.
Uitstappie: 13 September. (Ontmoet by Shell Ultra om 08h00). Besoek Rob Windsor se plaas.
BirdLife Walkerbaai: Stanford Glendower Voëlfees. (Sien beskrywing elders op die bladsy). 3 tot 5 Oktober. Bel Elsa Gebhard by 028 – 3410499.
BirdLife Worcester: Praatjie: 3 September. (19h00) Skyfievertoning oor 'n toer deur Namibië en die Kalahari deur Mike Graham. Kerksaal van Worcester Congregational Kerk.
Uitstappie: 13 September. (08h00) Besoek plaas van Bertie van der Merwe - plaasdam met baie voëls. Bel Kobus Graaff by 0825559505.
Cape Bird Club: Praatjie: 11 September (20h00) “Fitroy to Lockroy – an Antarctic adventure” deur Jonathan Hemp. Nassua Sentrum, Groote Schuur Hoërskool. Bel 5590726.
Uitstappie: 7 September. Spesiale diamantviering uitstappie met Delheim wyne. Bel Peter Cooper by 7835394.
Lakes Voëlklub: Wildernis Nasionale Park Ereveldwagters Voëlkyknaweek: 2 tot 7 Oktober. Bel JJ van Rensburg by 044 – 3431303
Paarl Voëlreservaat: 20 September. Tel voëls om 09h00. Bel Yvonne Weiss 872 4972. Ring voëls. Bel Gordon Scholtz 851 2236.
Tygerberg Voëlklub: Praatjie: 18 September. (20h00). “Die plant en voëldiversiteit van die De Hoop natuurreservaat” deur Guy Palmer. Christo Pienaar sentrum. Bel Deona Andrag 945 4492
Uitstappie: 20 September. (07h30) Besoek Riebeeck Kasteel/ wes. Bel Brigid de Kock 975 1252
Weskus Voëlklub: Uitstappie: 9 September. Kom besigtig die sterretjies (Terns) en kyk blomme by die ou vliegveld.
Uitstappie: 27 September. Die jaarlikse klub "Big Birding Day" kompetisie. Ons tel in spanne voëls om fondse vir BLSA te werf. Bel Jan Kotze by 022 – 7830818.
Witzenberg Voëlklub: Uitstappie: 24 September. Vertrek om 08h00 vanaf El Fora. Besoek Leeufontein plaas van Eric en Petro Conradie. Eric sal ons meer van Renosterveld vertel terwyl ons voëls op die plaas identifiseer. Bring-en-braai.
11 Oktober. (08h00). Bergsig Landgoed se voëlkyk dag. Ander klubs neem ook deel aan hierdie heerlike dag. Bel Pietman Basson by 0828964042 of Marthinus by 0823246751.
E-pos alle inligting aan Anton Odendal by birding@overberg.co.za of bel by 0825503347. In sommige gevalle is meer detail beskikbaar by www.westerncapebirding.co.za.